Die dorpie Genadendal in die Wes-Kaap is in 1837 deur die Morawiese Kerk gestig. Ons het 'n reeks in-diepte kwalitatiewe onderhoude met twaalf afgetrede inwoners van die dorp gevoer en hulle belewenisse en herinneringe geanaliseer om hulle geleenthede, sosiale weerbaarheid en strukturele kwesbaarheid te evalueer. Ons gebruik Amartya Sen se benadering van Instaatstellende Geleenthede ("capability approach"), sowel as Weerbaarheidsteorie (kyk voetnoot 2) as teoretiese raamwerke. Ons het gevind dat daar 'n baie sterk sosiale verbondenheid bestaan het terwyl die deelnemers grootgeword het, wat hulle meer weerbaarheid gegee het gedurende die apartheidsperiode. Na die oorgang na demokrasie het hulle werksgeleenthede en geleenthede vir beter integrasie in die breë samelewing uitgebrei, maar as gevolg van die feit dat Kaapse bendefamilies in Genadendal ingetrek het, het hulle op nuwe maniere struktureel kwesbaar geword. Die analise van geleenthede, sosiale weerbaarheid en strukturele kwes-baarheid in Genadendal tydens en na apartheid illustreer die belewenisse van 'n atipiese, afgesonderde landelike gemeenskap in die Wes-Kaap tydens hierdie twee historiese periodes.
CITATION STYLE
Conradie, I., Hüman-Hendricks, A., & Roman, N. (2020). Sosiale weerbaarheid, strukturele kwesbaarheid en instaatstellende geleenthede in Genadendal, Suid-Afrika. Tydskrif Vir Geesteswetenskappe, 60(1), 164–181. https://doi.org/10.17159/2224-7912/2020/v60n1a12
Mendeley helps you to discover research relevant for your work.